Boran-bees het lang lys goeie eienskappe

DIE groot voordeel van die boran is dat hy uitstekend in swak weiveld aard. Die makmaakproses van die oudste beesgroeperings, Afrika se Bos taurus, het in ongeveer 8 000 v.C. in ’n oostelike gebied suid van die Sahara begin. Die proses is gevolg deur die Europese Bos taurus wat in 6 000 v.C. in Oos-Europa en Bos indicus (Seboe-beeste) wat in 4 000 v.C. in die Indusvallei in Pakistan mak gemaak is.

Die genetiese samestelling van die boran bestaan uit 24% Europese Bos taurus, 64% Bos indicus en 12% Afrika-Bos taurus.  Volgens die boran-beestelers se webwerf www.boran.org.za is die boran in Oos-Afrika ontwikkel in die Borana-plato in Suidoos-Ethiopië. Al die verskillende rasse het uit verskillende bestemmings oor Afrika heen hierheen migreer. Hier het die boran ontwikkel in die belangrikste ras in Oos-Afrika en veral in Kenia waar die Keniaanse Boranbeestelersvereniging die verbeterde boran sedert die draai van die eeu teel.
Sover vasgestel kan word, is hierdie die enigste ras wat in Afrika geteel is wat hierdie spesifieke kombinasie van gene het. Die boran het sy laaste inspuiting van “nuwe” gene in die jaar 700 gekry. Die boran is dus nie ’n sinteties of saamgestelde ras nie. Dit is die laaste 1 300 jaar as ’n suiwer ras geteel. Die voordeel hiervan vir die kommersiële boer is dat die boran ’n baie sterker hibried-vitaliteit het as moderne saamgestelde rasse. Volgens die Boran-beestelersvereniging is dié ras ideaal vir weiveld-vleisbeeste.

Omdat die ras in natuurlike toestande in Afrika ontwikkel het, kan dit aan telers gee wat hulle nodig het. Die telersvereniging het hom voorgeneem om te verseker dat die boran behoue sal bly. Hulle wil voortbou op die goeie eienskappe van die boran sonder om die ras se bestaande eienskappe te verander. Volgens die telersvereniging is van die goeie eienskappe van die boran: ) Die koei het goed ontwikkelde uiers met goed gevormde spene; ) Hulle produseer genoeg melk om kalfies wat meer as 50% van hul uiteindelike gewig weeg, te speen. ) Die boran se goeie moedersinstink keer roofdiere af. ) Die ras het ’n uitstekende oorlewingsyfer vir kalfies. ) Koeie skenk geboorte aan klein kalfies, manlike kalfies is gemiddeld 28 kg en vroulike kalfies gemiddeld 25 kg. Daar is min geboorteprobleme. ) Dit is heel normaal vir ’n 15 jaar oue koei om nog gesond en vrugbaar te wees en daar is rekords van 16 jaar oue boran-bulle wat semen skenk vir kunsmatige inseminasie. )

Die boran se bekendste kenmerk is sy vrugbaarheid. ) Die koeie kan selfs in slegte toestande kalfies speen sonder om haarself te na te kom. Een van die redes vir die ras se hoë vrugbaarheid is dat die koei relatief min gewigsverlies tydens die suigelingtydperk toon, dus in ’n goeie kondisie bly en sy vinnig weer kan dragtig raak. ) Die boran het ’n baie beweeglike vel, bedek met kort hare en ’n hoë afskeiding van ’n olierige stof wat maak dat die boran nie ’n baie gunstige draer van vlooie en luise is nie. ) Die ras se dik oogbanke en lang wimpers, asook sy lang stert met goedgevormde spiere, beskerm hierdie inheemse ras teen insekte.Wat temperament betref, is die boran oor die algemeen ’n rustige en hanteerbare ras. Dié kenmerk het oor baie jare ontwikkel danksy baie generasies vee wat naby die mens leef.

(Volksblad Bylaag 30 Julie 2010)