Boran ’n plesier om mee te boer

DIE mediumraam-beesras met sy dik, gladde vel en inherente weerstand teen talle bosluissiektes, is volgens mnr. Wilhelm Allers van die Allers-stoetery net ’n plesier om mee te boer.

Allers sê die boran aard baie goed op sy plaas op die grens van Noordwes en die Noord-Kaap. Allers sê hy wil graag gehalte-borane teel wat vroeg ryp is, gehard en funksioneel doeltreffend is. Die koeie moet maklik kan kalf en oor genoeg melk beskik vir haar kalf. Vir Allers is die boran se goeie temperament en veral die koei se moedersinstink ononderhandelbaar.

Hy sê hul verskalwers word op tussen 16 en 18 maande deur die bul gedek om op ongeveer 24 maande die eerste keer te kalf. Die Allers-stoetery onderneem nou ’n opteelprogram en volgens Allers is dit opmerklik hoe sterk erfdwang by die boran is. “Met die eerste kruisings (F1) is die dik, gladde vel en baie minder bosluise as by die moeder duidelik sigbaar,” sê Allers. Die eerste volgeregistreerde boran-kalwers uit die teelprogram word in September op die plaas gebore.