Genetiese eienskappe gee boran voorsprong

DIE boran se uitsonderlike genetiese samestelling is een van die groot redes hoekom al hoe meer Suid-Afrikaanse rooivleisprodusente belangstelling in dié ras toon. Op ’n onlangse veiling wat deur CMW Elite en die Boran-telersgenootskap aangebied is, het dit weer duidelik geword dié ras is nou uiters gewild. ’n Hoogste prys van R450 000 is vir ’n boran-bul op dié veiling behaal. (Volledige berig op bl. 9.)

Volgens mnr. Eloff Muller, president van die Boran-genootskap, is dié ras nou so duur omdat die vraag groter as die aanbod is. Hy sê een van die redes vir die ras se gewildheid is dat die boran oor genetiese eienskappe beskik wat hom ’n groot voorsprong bo ander rasse gee.  Mnr. Johann Zietsman, bekende beeskenner, sê in ’n onlangse brief in Landbouweekblad daar bestaan geen twyfel nie dat die boran goeie eienskappe het en dat die ras ’n aanwins vir die Suid-Afrikaanse veebedryf is.

Hy sê in die brief die eienskap wat die boran bo al die ander Afrika-rasse laat uitstaan, is sy vermoë om vet aan te sit.  “Dié vermoë om energie in die vorm van vet op te berg is noodsaaklik vir oorlewing in woestyntoestande en dit is ’n bate in alle seisoenale reënvalgebiede, asook streke met koue winters.” Hy sê die boran het boonop ’n baie goeie vleis-beenverhouding en die koeie lewer goeie melk.
Muller sê daar is nou 244 boran-telers oor Suid-Afrika heen.

(Volksblad Bylaag 30 Julie 2010)