Pogings om ras te vestig kom al van 1960’s

DIE eerste pogings om die boran na Suid-Afrika te bring het in 1960 begin.  ’n Keniaanse boer Miles Fletcher het met boranbeeste op sy plaas Sugoroi naby Naro Moru in Kenia geboer. In 1962 het hy besluit om na Suid-Afrika te emigreer en hy het beplan om sy trop boran hier in Suid-Afrika te vestig. Hy het meer as 100 troppe deur Zambië vervoer, maar het die proses in 1963 weens probleme gestaak en het sy boranbeeste aan ’n korporasie in Zambië verkoop.

Nadat Miles se neef Simon Hodgson ’n artikel gelees het oor embrio-vervoer en die revolusionêre rol wat dit kan speel in die vervoer van genetika van siektesensitiewe gebiede, het hy besluit die teel van borane in Suid-Afrika is dalk nou moontlik. Hodgson het in 1991 met die Kenia-boran-veeteelvereniging kontak gemaak en sy belangstelling te kenne gegee om borane in Suid-Afrika te vestig. In Desember het die vereniging se president, mnr. Giles Prettejohn, vir Hodgson genader om ’n geskikte kandidaat van Suid-Afrika te stuur om die boran-beesras in 1992 op die Nairobi-skou te beoordeel.
Mnr. Douglas Ralfe het die uitnodiging aanvaar en saam met sy seun, Tim, na Kenia gevlieg om die beoordeling te behartig. Hulle het twee dae as gaste van die vereniging in Kenia bestee en talle voorste boran-plase in die land besoek. Douglas was baie beïndruk met die boran. “Dit is ’n ras wat goed aangepas is by die omgewing waarin daarmee geboer word,” het hy ná die besoek gesê.
Hy vertel hulle het op die Mutare-plaas ’n trop van ongeveer 200 rooi koeie en kalwers gesien, ongeveer 50 m weg net soveel wit koeie en kalwers.  “Wat baie interessant was, was die groot tropinstink van die diere – hulle het nie met mekaar probeer meng nie ongeag dat daar net twee beeswagters was. Dit was een van die wonderlike eienskappe van die boran wat ons opgemerk het.” Net daar het hulle besluit om die boran na Suid-Afrika in te voer.
Die departement van diereverbetering het die boran-ras in Augustus 1995 as ras erken en die Boran-telersvereniging van Suid-Afrika het op 17 Mei 2003 tot stand gekom.
Die eerste boranbul is op 24 Oktober 1995 gebore. Die volgende inspuiting van nuwe genetika het in 2000 plaasgevind toe Terry Mclintock boran-beeste van die Forrester Estates in Zimbabwe gekoop het. Ná verskeie besoeke aan Kenia het Terry besluit om koeie van drie stoetplase te spoel. Hy het gekonsentreer op die goed gespierde beeste met goeie huid. Hy het ook borane van die Grasmere-stoetery buite Lusaka in Zambië gebring en hulle op ’n plaas in Swaziland gevestig. Verdere belangstelling in die ras is aangewakker deur ’n besoek van Philip Valentine en Mark Myatt Taylor van Kenia wat verskeie voorleggings oor die boran-ras hier in Suid-Afrika gedoen het.