Ras floreer landwyd
BORAN GENETICS, een van die stigterstoeterye van die boran in Suid-Afrika, voer reeds sedert 1994 embrio’s van Kenia af in. Mnr. Simon Hodgson, eienaar van Boran Genetics, sê dié stoetery beskik oor meer as 600 rasegte Keniaanse borane op sy plaas naby Estcourt in KwaZulu-Natal. Die groei in die stoetgrootte is moontlik gemaak deur die uitgebreide gebruik van embrio-oorplasings. Hy maak ook gebruik van die kundigheid van embrioloë by Embryo Plus op Brits wat die sukses van embriospoeling en oorplasingprogramme verseker.
Die plaas is net enkele honderd meter van die plek waar Piet Retief se Doornkop-laer geleë was en net 7 km van die N3-snelweg. Die plaas het soortgelyke veldtoestande as dié van die Laikipia-plato in Kenia, hoewel met ’n baie laer hoogte bo seespieël. Soos in Kenia word daar met die medium-postuur-, funksioneel doeltreffende boran in ekstensiewe plaastoestande geboer en het die ras homself gedeeltelik bestand teen hartwater en rooiwater in die omgewing bewys. Hierdie gehardheid binne die trop beteken dat die boran vinnig aanpas en floreer wanneer dit na ander dele van die land verskuif word.
Boran Genetics fokus nou op die invoer van embrio’s van Kenia af. Die gevolg daarvan is dat die stoetery nou waarskynlik die grootste genetiese diversiteit van die Keniaanse boran in Suid-Afrika het. Bykomend daartoe word embrio’s geoes van bestaande plase in Kenia en word daar voortdurend gesoek na nuwe genetika uit sommige van die meer afgeleë plase in Kenia. Hodgson sê hierdie bron van nuwe of ongewone genetika is die belangrikste trekpleister vir hul jaarlikse lenteproduksieverkoping. Boran Genetics het besluit op ’n wye benadering in belang van uitbreiding en die groei van die ras en maak hul genetika beskikbaar vir Suid-Afrikaanse telers. Telers kan die plaas besoek en moontlike embriotelers en teeldiere kies.
(Volksblad Bylaag 30 Julie 2010)



