Ras gehard, ekonomies

DIE boran het ontwikkel uit ’n genetiese samestelling van die Europese Bos taurus (24%), Bos indicus (64%) en Afrika-Bos taurus (12%). Die ras het ontwikkel in Oos-Afrika en een van die belangrikste plekke waar die ras voorkom, is die Borana-plato in die suidelike deel van Ethiopië.

Die boran het oor dekades heen ontwikkel in die dominante ras van Oos-Afrika en veral van Kenia. Sover vasgestel kan word, is hierdie die enigste ras in Afrika (en die wêreld) met hierdie spesifieke geenkombinasies. Die boran as ras het sy laaste nuwe geeninspuiting in die jaar 700 n.C. gekry. Geen kruisteling het vir meer as 1 300 jaar plaasgevind nie. Vir kommersiële telers is dit ’n belangrike faktor omdat die boran dus sterker basterkrag as moderne rassesamestellings het. Rasse met Bos indicus-gene bied ook goeie weerstand teen siektes, bosluise, hitte en droogte.

Volgens mnr. Paul Pienaar van Bar Circle Boran presteer borankruisings baie goed in die voerkraal, sowel as in die veld. Verder beskik die beeste oor ’n sterk erfdwang. Talle telers sal daarvan kan getuig dat die boran ’n besonderse vermoë het om swak ruvoer in bemarkbare vleis om te skakel. Die beeste kan dus goeie kondisie in swak weiveld behou. Pienaar sê die boran besit ’n “vetgeen” en het ’n aangepaste spysverteringskanaal wat baie ruvoer kan verwerk. Die boran is nie-selektiewe vreters en vreet blare, bossies en droë gras. Hy sê nog ’n voordeel is dat die koei vroeg geslagsryp is en op twee jaar in die veld kan kalf. Hulle is hoogs vrugbaar en produseer selfs in swak toestande. Koeie het mooi spene met genoeg melk om 50% van haar moedergewig te speen.

Die diere het ’n sterk tropinstink en dit verhoed diefstal en roofdieraanvalle. Die boran het ontwikkel deur natuurlike seleksie in Oos-Afrika en is bestand teen talle siektes. Hulle is goed bestand teen bosluise vanweë hul dik, los velle met gladde hare. Danksy die dier se gehardheid is minder doseermiddels dus nodig. Pienaar sê daar is ’n groot vraag na die boran en dit verseker goeie wins van die veld af. Hy sê bulle wat vir kruisteling gebruik kan word, is nou bekostigbaarder vir die kommersiële teler. Danksy die verlaagde onderhoud met kos en medikasie en die kalf se verhoogde oorlewingsdrang, is dit ’n baie ekonomiese ras om mee te boer. Die ras het ook ’n goeie temperament.

(Volksblad Bylaag 30 Julie 2010)