Tipiese eienskappe van die hedendaagse boran
DIE boran is ’n mediumraamdier met goeie bespiering en gewig vir ouderdom. Die onderskeie liggaamsdele is in perfekte verhouding met mekaar. Groot geslagsdemorfisme kom by die boran voor. Die bulle is baie groter en manliker as die koeie wat op hul beurt baie vrouliker en kleiner is. Albei geslagte vertoon die tipiese borankenmerke.
Kop:
Die kop is kompak en breed tussen die oë met prominente oogbanke. Die ore is relatief klein met kort hare.
Die bek is breed en die onderbek sterk met sterk lippe. Die oë, ore, bek en neus is goed gepigmenteer.
Die kop is goed bespierd en vertoon van die kant gesien effens konveks vanweë die spiere bo die oë, maar die neusbeengedeeltes is droog.
Nek:
Die nek is diep en relatief kompak, met goeie aansluiting voor en agter. Die nek van die bulle is sterk, dik, bespierd en donker gekleurd, met ’n vol aansluiting by die skouers en kop. Die prominente nekvel loop oor die diep en vol voorbors wat nie afwaarts buig nie.
Skouers:
Die boran se skouers is diep, breed, gespierd en stewig aangeheg. Vrugbare koeie se skouers is taamlik los.
Skof:
Die skof is reg bokant en in lyn met die voorbene geplaas, gerond, goed ontwikkel en smelt goed saam met die lyf.
Rug en lende:
Die boran se rug en lende is lank, breed, reguit, sterk en bespierd.
Bors en middelstuk:
Die bors en middelstuk is breed en diep. Die dier het goed gevulde agterskouers (haselêer) en elmboog. Die ribbes is goed gewelf en diep, skuins geplaas na agter en van agter gesien, nie rond of platsydig nie. Die pens het ’n geweldige kapasiteit.
Van die sykant gesien vertoon die middelstuk vierkantig. Die flank is diep.
Skede:
Die boran se skede is nie groot en losswaaiend nie, maar hang met ’n hoek na voor en eindig in ’n V-vormige, klein, nie-vlesige sfinkter met goeie beheer.
Kruis:
Die kruis is lank van die heupe af na die sitbene en breed tussen die heupe en tussen die sitbene. Die kruis is nie te dakkig nie en hang van heup na sitbeen ongeveer 22,5 grade. Die heupbene is nie prominent nie en die hele kruis is goed bedek met spiere. Die draaiers is laer geplaas as die sitbene.
Stert:
Die kruiskam is nie prominent nie en die breë stertwortel is effe hoër as die sitbene. Die stert is lank en vernou na die punt wat eindig in ’n groot, digte, gepigmenteerde kwas.
Dye:
Die boran se dye is breed en vol van die sykant en agter gesien en loop laag af na die tweede dy. Die breedste deel van die agterkwart is by die knie.
Agterbene:
Die agterbene is wyd geplaas, sterk, met goeie behoeking. Dit is nie reguit of sekelhak nie en is nie fyn of grof nie. Die mediumlengte-been moet in verhouding met die res van die lyf wees.
Kote en voete:
Die kote is nie regop of slap nie. Die kloue is regop, simmetries, met reguit binnekante, kort, ’n diep hak, teen mekaar geplaas en gepigmenteerd. Die gewig is eweredig op albei kloue. Die voorbene is reguit en die hoefkroon nie geswel nie.
Vel en hare:
Die verkieslik gepigmenteerde vel is dik, los en beweeglik sonder oormatige voue, met kort, glansende, olieryke hare.
Uier en geslagsorgane:
Die uier is goed ontwikkel met gepigmenteerde, mediumgrootte-spene. Die vulva is goed ontwikkel en gepigmenteerd. Die skrotum is groot met ’n dun nek en nie veel laer as die hak nie. Die teelballe is ewe groot en die sak is sag en glad met kort hare en is nie gedraai nie. Die sak is gepigmenteerd, veral by die punt.
Beweging:
Die boran beweeg gemaklik en veerkragtig, met bene en voete wat parallel aan mekaar bly en nie in- of uitswaai nie.
Temperament:
Die boran is kalm, hanteerbaar en gelykmatig.
(Volksblad Bylaag 30 Julie 2010)



