Waarom is ras so gewild?
WAAROM is die boran-beesras so gewild in bykans alle dele van Suider-Afrika met sy uiteenlopende bioklimaatstoestande?
Volgens die Boran-telersgenootskap met sy kantoor in Bloemfontein, is dit deur DNS bewys dat die boran glad nie aan enige ander beesras in Suid-Afrika verwant is nie. Die ras is reeds vir 1 300 jaar suiwer geteel. Vanweë sy unieke genetiese samestelling bied die boran aan Suid-Afrikaanse beesboere ’n bykomende teelopsie. Op grond van laasgenoemde kan die boran broodnodige basterkrag na die Bos taurus- sowel as na die Bos indicus-kant, aan kommersiële beesboere beskikbaar stel. Voeg daarby dat die ras ideaal geskik is vir ekstensiewe omstandighede in Suid-Afrika in terme van voeromset, bouvorming, gehardheid en gemak van kalwing. Die kalwers is klein by geboorte, maar die ras is bekend vir sy goeie moedereienskappe en hoë moeder-tot-kalf-speenmassa-verhouding, wat natuurlik ’n baie belangrike ekonomiese punt aanraak naamlik meer kilogram vleis/wins per hektaar.
Proewe in Nebraska, Amerika, het bewys dat die boran en boran-kruise konstant beter presteer as ander Seboe-rasse ten opsigte van vleissagtheid, marmering en oogspieroppervlakte.
Borane is vroeg geslagsryp. Verse is van die ouderdom 12 tot 15 maande gereed vir parings om op 24 tot 27 maande te kalf.
Borane het goeie donker pigmentasie en sterk oogbanke wat hulle beskerm teen son, stof en baie belangrik, Moraxcella Bovi’s-ooginfeksie – soos gereeld bewys word waar daar met borane en blesbokke geboer word. Soos alle Seboe-soort beeste kan die boran hittetoestande goed weerstaan. Hulle het meer sweetgaatjies en die voue in die vel vergroot die veloppervlakte en help om hoër temperature te weerstaan. Daar is gevind dat hulle ook in uiters koue toestande gedy.
Die ras is gehard en bied baie goeie weerstand teen bosluisoordraagbare siektes. Borane het ’n dik, beweeglike, los vel met ’n blink, gladde haarkleed wat dit vir bosluise moeilik maak om vatplek te kry. Veldstudies het getoon dat borane wat op dieselfde weidings as ander rasse wei, ’n baie laer bosluistelling het. Hierdie eienskappe bespaar die boer baie aan dip- en veeartsenykoste. Dit is belangrik in die lig van die werklikheid van aardverhitting. Siektes wat nog nooit voorheen in ’n omgewing voorgekom het nie, begin al hoe meer hul verskyning maak soos hartwater in sekere dele – en die boran toon ook hierteen goeie weerstand.
Borankoeie vereis min sorg wat produksiekoste tot die minimum beperk. Hulle wei gemaklik op suurveld, asook fynbosveld, wat vir die meeste ander rasse onaanvaarbaar is. Die diere is glad nie selektiewe vreters nie. Borane het die vermoë om baie vinnig ná droogtes te herstel.
Kommersiële boere wat maksimum wins per hektaar wil verdien, hoef nie verder te wonder nie.
Vir meer inligting, skakel die Boran-genootskap by 051-410-0951 of besoek die webtuiste by www.boran.org.za.



