Wat elke stoetteler behoort te weet

 

Alle korrespondensie en navrae moet gerig word aan: Die Sekretaresse, Boran Beestelersgenootskap van SA., Posbus 506, Bloemfontein, 9300, Tel.:(051) 4100 951.

Lidmaatskap

Aansoek om lidmaatskap moet op die voorgeskrewe vorm geskied en dit moet aan die kantoor gestuur word tesame met u tjek ten opsigte van die fooie soos op die vorm uiteengesit.

U lidmaatskap kan op verskillende maniere geregistreer word. U kan aansluit:

  • As individuele lid onder u eie naam
  • In vennootskap wanneer name en adresse van elke vennoot verstrek moet word en elke vennoot ook ‘n vennootskap vorm moet voltooi
  • In ‘n handelsnaam bv. Grootrivier Boerdery, maar vir eie rekening. Ook hier moet die eienaar se persoonlike gegewens verstrek word
  • As ‘n BK, Maatskappy of Trust. Die woorde “BK”,“Beperk” of “Eiendoms Beperk” moet na die naam van die BK of Maatskappy verskyn en korrespondensie aan die kantoor behoort op ‘n briefhoof te wees, waarop die naam van die maatskappy of BK, sowel as die name van die direkteure , duidelik uiteengesit is. Die BTW nommer moet ook verstrek word. ‘n Afskrif van die maatskappy se registrasiesertifikaat moet ook aan die kantoor gestuur word.
  • As ‘n Trust, waar die dokumentasie m.b.t. die registrasie van die trust ook voorsien moet word.

 

Kuddenaam

Ingevolge die Wet op Diereverbetering van 1998, moet elke teler ‘n kuddenaam wat ook as ‘n stoetnaam of voorvoegsel beskryf kan word, registreer vir die benaming van opreggeteelde vee, welke kuddenaam deur die SA Stamboekvereniging toegeken word en geen duplisering oor alle lede en alle rasse word toegelaat nie. Die kuddenaam mag uit nie meer as 18 karakters bestaan nie.

‘n Lys van vyf of ses woorde, in voorkeur-volgorde, moet op die vorm ingevul word. Die naam van ‘n dorp, stad of poskantoor is nie toelaatbaar nie.

Registrasie van kuddekenmerkletters (KKL)

Daar word vir elke teler kuddekenmerkletters geregistreer. Hierdie kan dieselfde wees as die geregistreerde brandmerk, maar nie noodwendig nie. Hierdie letters word vir die teler se uitsluitlike gebruik geregistreer om die diere deur hom/haar geteel, te identifiseer. Die diere deur u geteel word gebrand met u kenmerkletters gevolg deur die jaartal verkort en die nommer van die kalf. Veronderstel u KKL is “AV” sal u die eerste kalf wat in 2005 in u stoet gebore is AV 05 1 identifiseer, die volgende AV 05 2 ens. Bul- en verskalwers word in volgorde van geboorte geïdentifiseer en kry dus nie dieselfde nommers nie. Dieselfde geld vir kalwers uit Hulpstamboek koeie. Hulle word in dieselfde reeksnommers van die SP kalwers gemerk. Geen Hulpstamboek kalf mag met dieselfde nommer as ‘n SP kalf gemerk word nie. Die Raad het ook aanbeveel dat Hulpstamboek diere ook gebrand kan word met die “A” “B” of “C” om die afdeling van die hulpstamboek te identifiseer.

Alle diere moet voor keuring gebrand of getatoeëer wees. met die teler se kuddemerk..

Die genootskap se keurders besoek telers jaarliks. Vooraf word telers versoek om aan te dui hoeveel diere vir keuring beskikbaar sal wees. Dit stel die keurders in staat om ‘n reisplan op te stel.

Intergis registrasie nommer

Wanneer u deelname deur die Stamboekvereniging goedgekeur is, word ‘n intergis nommer aan u toegeken. Hierdie deelnemers nommer moet u gebruik op alle dokumente van diere deur u aangekoop, geteel en geregistreer.

Lys van diere in u besit

‘n Lys moet voltooi word waarop u die besonderhede van alle diere wat u aangekoop het, en waarvoor u reeds registrasie sertifikate besit , moet invul. Indien u diere aangekoop het en nog nie dokumentasie ontvang het nie, moet die identifikasie van die diere ook voorsien word

Die Genootskap se fooie sowel as die van die Stamboek word jaarliks aangepas. Die intreefooi is ‘n eenmalige fooi, maar die ledegeld en ander toepaslike fooie word jaarliks aangepas. Die finansiële jaar asook die van Stamboek begin op 1 Julie van elke jaar. Stamboek voorsien aan die einde van April aan u ‘n lys van al die diere volgens hulle rekords in u besit. U kry geleentheid om voor einde Junie die lys na te gaan en die nodige regstellings aan te bring. Daarna sal u die Stamboek rekening vir u jaarlikse deelnemersfooie en heffing op die diere ontvang.

Gebruik van bulle

Om aanhangsel A diere te teel:

Kommersiële vroulike diere x SP- of C-Boran bulle. Kalwers gebore uit hierdie ouers moet op 15 maande ouderdom vir keuring as “eerste aanvaardings” of “A-diere” aangebied word alvorens hulle op die databasis aangeteken kan word.

Om aanhangsel B diere te te teel:

Aanhangsel A vroulike diere x SP- of C-Boran bulle.

Om aanhangsel C diere te teel:

Aanhangsel B vroulike diere x SP-Boran bulle

Om SP Borane te teel:

Aanhangsel C vroulike diere x SLEGS SP BORAN bulle

OF

SP vroulike Boran Diere x Aanhangsel C-Boran bulle.

Aanhangsel A en B bulle word nie gekeur nie, en is dus kommersieel.

C- en SP-bulle word verkieslik vanaf ouderdom 24 maande gekeur.

Alle Boran Bulle moet DNS getoets wees.

Die DNS profiele kan by die volgende twee laboratoriums gedoen word Irene (P/Sak X2, IRENE, 1675) Unistel (Suite 13, P/Sak X22, TYGERVALLEI, 7536)

Veelvuldige vaars word aanvaar MAAR vaderskap van die kalwers moet gedoen word voor registrasie.

Geboorte aanmeldings

Die geboorte van alle kalwers uit Hulpstamboek “A” “B” “C” en SP koeie moet binne 90 dae na geboorte aangemeld word, hetsy lewendig of doodgebore. Geboortekennisgewingsertifikate word na registrasie deur SA Stamboek vir lewendige diere uitgereik. Kalwers kan met oorplaatjies gemerk word totdat die permanente brand of tatoeëring aangebring word.

Keurings

Alle Boran diere is onderhewig aan keuring, ongeag hul gradasie.

Dit is verpligtend dat ‘n teler tydens besoek van die inspekteur alle diere tussen die ouderdom van 12 tot 36 maande, wat nog nie gekeur is nie, voor die inspekteur bring vir keuring, behalwe in die geval van ingevoerde diere waar geen ouderdomsbeperking geld nie. Gedurende inspeksie moet die teler alle verse en bulle van dieselfde ouderdom en prestasie getoetste groep aan die inspekteur voorhou. Die inspekteur het die mag om na eie oordeel enige dier oor te hou vir inspeksie tot die volgende besoek, in welke geval die ouderdomsbeperking nie van toepassing sal wees nie.

Aanhangsel A diere (kalwers van kommersiële moeders x SP of C bulle) moet op die ouderdom van 15 maande vir keuring aangebied word alvorens dit geregistreer kan word. ‘n Eerste aanvaardingsvorm waarop die diere se besonderhede aangeteken word, moet deur die Keurder onderteken en aan die kantoor deurgegee word vir registrasie. Registrasiesertifikate word dan deur SA Stamboek uitgereik.

‘n Dier word as gekeur beskou indien dit die Genootskap se diamantbrandmerk op die skof dra.

Na keuring word registrasiesertifikate deur SA Stamboek uitgereik (wat dan die geboortekennisgewingsertifikaat vervang).

Telers doen by die kantoor aansoek vir keuring.

Prestasietoetsing

Prestasietoetsing is nie verpligtend nie, MAAR word sterk aanbeveel.

Aanbevole gewigte vir persone wat deelneem:

Speengewig 205 dae + Moeder massa op dag van speen.

Een na-speen gewig nl. 12 of 18 maande massa van kalf.

Verdere besonderhede kan verkry word by die plaaslike LNR-LBA Streekskantore tel no: (051)447 6176 of by Die Registrateur, P/Sak X2, IRENE, 1675.